‘n Refleksie op “pa” wees vir Vadersdag 2022
Dit was die 9de Mei 1993 toe ek pa geword. Derik, ons oudste seun, was die eerste een om my “pappa” te noem. In 1996 is Jana gebore en in 2000 Andrea. Ek was nou “pappa” vir drie pragtige kinders. Aanvanklik was dit maklik vir my om “pappa” te wees. Ek het aan myself as ‘n goeie “pa” gedink. Ek was geduldig en het maklik met my kinders gespeel. Maar met tyd het die klein jakalsies gekom… In verskillende vorme. Ons het ons kinders groot gemaak in ‘n sterk Christelike omgewing. Ek was eers predikant en toe sendeling. En dan was ons ook nog in kinderbediening. Ek besef nou eers die druk wat dit op ons ouers geplaas het. En die druk wat ek as pa op my kinders geplaas het… Die altyd reg en goed lyk in die publiek… Die dominee, die sendeling, die kinderwerker se kinders behoort darm… … te weet hoe om sy kinders te dissiplineer… (Spreuke in Bybel is mos duidelik hieroor…) … sy kinders te kan beheer…
Intussen was ek as “pa” ook nog in ander rolle. Ek was nie net “pa” nie, maar ook ‘n huweliksmaat. So saam met die koms van die kinders kom ook die harde werkikheid van werk aan ‘n verhouding wat iewers met laat nagte sonder slaap, doeke omruil, eise by die werk sy glans verloor... En dan is jy ook nog dominee of fasilteerder of sendeling... iewers probeer jy ook nog jou eie loopbaan uitkap en jou plek en rol in ‘n groter wereld vind... En met tyd gebeur dit. Jy sit vas met jou seun. Jy stel jou dogter teleur. Jy beleef diskonneksie met jou huweliksmaat. Daar is teleurstelling by die werk. Stories in jou kop begin vorm kry wat hulleself oor en oor op verskillende maniere uitspeel ... dalk is jy nie so goeie pa, man,dominee, sendeling as wat jy gedink het nie... Jy vind maniere om hierdie storie en ander donker kolle in jou lewe “weg te steek” Vir my het dit beteken ek onttrek in ‘my grot’. Ter wille van vrede bly ek stil en begrawe my eie gevoel en behoeftes diep weg. Ander kere probeer ek my vrese wegsteek deur beheer te neem. Want iewers wil ek tog net steeds probeer wys dat ek ‘n goeie pa, man, dominee, sendeling is... Al is daar ‘n ander storie in my kop... ”Jy is nie regtig goed genoeg nie...” Die pynlike werklikheid is dat my eie negatiewe siening van myself groot letsels op myself en juis die wat ek liefhet gelaat het... ook my kinders... Natuurlik was daar ook goeie, wonderlike, mooi momente op die pad. Verseker is ons as gesin lief vir mekaar en het ek goeie verhoudinge met my kinders. Maar ek moet ook eerlik weees. Vir my het daar persoonlik ‘n keerpunt gekom. In my eie storie was dit groot teleursteliings, pynlike verliese, wat my totstilstand gebring het. Wat my gedwing het om eerlik na myself te kyk – ook die donkerkolle wat ek so probeer wegsteek...
Daaroor kan ons nog lank gesels – maar kom ek probeer so paar lesse uitlig wat ek geleer het as ek vandag terugkyk op my reis as “pa” vir my kinders...
Kinders is nie net ‘n geskenk nie. Kinders is ook jou leermeester. En die oomblik as ek dit begin raaksien, hoef ek nie dit wat my eie kinders in my ontbloot te probeer wegsteek of te ontken of te onderdruk nie. Dit word leer geleenthede, groeie geleenthede – vir my en my kinders.
Ek as pa is nie daar om my kinders te beheer of onderbeheer te bring nie. Liefde beheer nie. Liefde skep ruimtes, veilige ruimtes met sagte grense. Ruimtes gevul met aanvaarding. Ruimtes wat altyd terug verwelkom, maak nie saak wat gebeur het nie. Ruimtes waar geluister word, vergewe word en oor en oor weer probeer kan word...
Die grootste geskenk wat ‘n pa sy kinders kan gee is om teenwoordig te wees. In die oomblik. Saam met hulle. Met hulle. Vir hulle. Ek was te veel keer nog “by die werk” of by “wat more moet gebeur”, ook daar waar ek met my kinders probeer speel het.
Jy bly altyd ‘n “pa”. Rolle verander wel. Om as pa in verhouding te wees met jou volwasse kinders is een van my groot vreugdes. Ek is so dankbaar “pa” wees het nie gestop toe my kinders uit die huis is nie. Deur sensitief te wees vir die verandering in rolle en bereid te wees om saam te groei bring groot vreugdes! Ons bly saam reis.
Jy as pa is verantwoordelik vir jou eie groei, jou eie behoeftes. Werk daaraan. Word gesond. Hoe gesonder jy is, fisies, emosioneel en geestelik, hoe meer sal jy uit jou verhoudinge kry.
Ek is dankbaar vir drie wonderlike kinders wat steeds bereid is om saam met my te leer, te ontdek, te groei. Derik, Jana, Andrea (en nou ook Ken), julle is my geskenk op hierdie reis. My leermeesters. My reisgenote. Dankie. Ek is bevoorreg om deur julle “Pappa” genoem te word.
